Wie van ons staan ons Pa’s/Ma’s en Oupas/Oumas se skoene vol?
- Willie-Waldo Kühn
- Jul 15
- 4 min read
As daardie skoene kon praat...
Jy ken daardie skoene. Die stewels wat agter op die stoep gestaan het. Die skoene wat elke dag werk toe is sonder klag. Wat begrafnisse en doopdienste bygewoon het. Wat diep stofpaadjies geloop het op soek na werk, vrede of net 'n toekoms vir hul kinders. Skoene wat nooit nuwe soole gekry het nie, maar wat karakter agtergelaat het met elke treë.
Vandag vra ek: Wie dra daardie skoene nou?
Die generasie wat geweet het wie hulle is
Oupa het nie nodig gehad om op Facebook te sê hy’s ’n man van sy woord nie. Hy was dit net. Ouma het nie ’n "TED Talk" nodig gehad om karakter en klas te hê nie - haar stilte het meer gesê as duisend reëls.
Hulle was nie volmaak nie, maar hulle was reguit.
Hulle het asseblief & dankie gesê.
Hulle het gewete gehad.
Hulle het aan ander gedink.
En bowenal - hulle het hulle kinders geleer om nie alles vir hulleself te hou nie.
Waar het ons begin gly?
Ons kinders leer vandag meer van "TikTok-trends" as van familiegeskiedenis. Ons skool hulle akademies, maar nie emosioneel of moreel nie. Dis makliker om te sê: “Dis hoe dinge nou is,” as om eerlik te vra: “Het ek dalk laat val wat ek moes dra?”
Die wêreld verander, ja. Maar waardes hoef nie daarmee saam te verdwyn nie.
Die pad terug begin by herkenning
Kom ons wees reguit:
Dis nie jou kind se werk om hul eie waardes uit TikTok te leer nie.
Dis nie Ouma se werk om ons geskiedenis te onthou nie - dis ons s'n.
Dis nie die skool se werk om jou kind se gewete te bou nie - dis jou huis s'n.
En dit begin by een eenvoudige vraag: Leef ek wat ek glo?
Wat het daardie ou skoene van ons verwag?
Nie volmaaktheid nie. Net egtheid. Daardie ou skoene het geleer:
Hou jou woord.
Sê as jy verkeerd was.
Wees getrou - ook al is niemand daar om jou te sien nie.
Stel ander voor jouself, dan jouself.
Doen wat reg is - nie wat maklik is nie.
Hulle het nie uitgegee oor karakter nie - hulle ingebou. Daagliks. Met voorbeeld. Met lyfstraf én liefde.
Met gebed en besluit.
Maar dis 'n ander wêreld...
Is dit? Of is ons net ander mense in dieselfde wêreld?
Ons het dalk slimfone, maar ons het minder tyd vir mekaar. Ons het programme vir dissipline, maar kinders soek eenvoudig net ’n ma of pa wat daar is. Ons het GPS’e, maar ons verdwaal vinniger moreel as ooit.
Die wêreld is vinniger. Maar dit beteken nie ons moet vlakker wees nie.
Herinneringe as rigtingwysers
Wat van jou Pa onthou jy?
Sy harde hand of sy sagte hart?
Die manier hoe hy altyd opdaag het?
Die feit dat jy geweet het: “As Pappa dit sê, dan is dit so.”
Wat van jou Ma?
Haar stem in die kombuis.
Haar woorde wat jou gemoed stilgemaak het.
Die manier hoe sy kon aangaan, sonder om te kla.
Dié dinge is ankergoed. Dinge wat jy nie aanlyn gaan kry nie. Dinge wat nie vervangbaar is nie.
Die jeug kyk. Altyd.
Hulle luister nie altyd na wat jy sê nie - maar hulle is 'n afskrif van wat jy leef. En as hulle sien:
Jy gee nie om om laat te wees nie...
Jy praat kwaad van ander agter hul rug...
Jy sê jy’s Christelik maar leef soos almal anders...
Dan leer hulle: “O, dis hoe volwassenheid lyk.” En daardie les bly lank.
Dis tyd dat volwassenes weer voorbeeld word. Nie net in ouderdom nie – standaarde skep.
Hoe bou ons weer?
Soos Oupa en Ouma gebou het: stadig, getrou, met opoffering.
Hier’s hoe jy daagliks hul skoene vol kan staan:
Wees daar - vir jou kinders, jou gemeenskap, jou God.
Hou jou woord - al is dit ongemaklik.
Doen klein dinge reg - dis waar karakter woon.
Leef eenvoudig - meer tyd, minder goed.
Vra raad by die ouer garde - nie omdat jy nie weet nie, maar omdat jy wil leer.
En Die Voortrekkers?
Dis juis waar plekke soos Die Voortrekkers so ongelooflik belangrik is.
Dis nie net speletjies en kampe nie - dis karakterbou.
Dis waar kinders leer om, ’n span te dra.
Om voor te staan.
Om hul belofte te hou.
Om in skoene te klim wat groter is as hul self - en te leer (daarin te groei).
Dis waar 'n seun wat skaam was, eendag voor 'n vlag staan en sê: "Ek belowe."
Dis nie net skoene nie - dis 'n roeping
Jy hoef nie jou Oupa se hoed te dra of sy Bybel te hê om soos hy te leef nie. Jy moet net weet wat hy gedra het:
Eer.
Offer.
Geloof.
Volharding.
Dis nie ’n mode nie. Dis ’n erfenis. En daardie erfenis lê nie in museums nie. Dit lê in jou hart. Jou keuses. Jou kinders.
Staan jy nog in daardie skoene?
Of is dit tyd om hulle weer aan te trek?
Comments