Hoekom ons weer Suid-Afrikaans moet koop – en hoekom dit saak maak wie jou produk maak
- Willie-Waldo Kühn
- Jul 21
- 3 min read
Dis nie net ‘n plakker op die verpakking nie
Ons almal het dit al gesien – “Made in South Africa.” Soms voel dit soos ‘n trotse-oomblik. Ander kere... klink dit soos ‘n verskoning vir hoekom iets duurder is. Maar hier’s die ding: daardie klein sinnetjie is nie net 'n plakker nie, dis ‘n hele storie. Dis werk vir iemand se ma. Dis skoolgeld vir ‘n kind. Dis hoop op ‘n plek waar hoop maar skaars is.
Die goedkoop is duurkoop – op maniere wat jy nie sien nie
Kom ons sê dit reguit: Ja, daardie ingevoerde plastieklepel is dalk R3 goedkoper as die een wat in Alberton gemaak is. Maar wat’s die koste wat jy nie op die strokie sien nie?
Werkloosheid wat styg
Vaardighede wat verlore gaan
Jongmense wat nie hul pa se ambag wil leer nie, want dit bring nie geld in nie
Belastings wat nie in ons ekonomie bly nie
En as jy ‘n Christen is - laat ek dit só stel: Jy kan nie bid vir werk en gelyktydig mense se werk na Indië stuur nie.
Plaaslike produksie skep nie net werk nie, dit hou gemeenskappe aan die gang
Dis maklik om te praat van “werkskepping,” maar kyk bietjie verder. Wanneer ‘n plaaslike fabriek floreer, kry die vrou in die kantien werk. Die afleweringsman kry ‘n bakkie op skuld. Die kerk kry ‘n tiende van iemand se salaris. Die plaaslike rugbyspan het ‘n borg. Die sirkel is kleiner as wat jy dink – en jy’s dalk alreeds deel daarvan.
Wanneer ‘Made in SA’ eintlik ‘n geheim is
Weet jy hoeveel produkte word tans gemaak in SA... maar dan uitgevoer, net om as ‘n ingevoerde handelsmerk terug te kom? Dit gebeur met klere, kos, meubels. Jy betaal vir die etiket – maar jy’t al klaar die fabrieksfluit hoor blaas in die agtergrond toe dit gemaak is.
Dis soos om jou eie tuisgebakte koek te koop teen Woolies-pryse. Dis belaglik.
Die besigheidshoek: hoekom maatskappye nie altyd goedkoper moet gaan nie
Ons verstaan dit – jy’s in besigheid om geld te maak. Jy moet koste sny, wins laat groei, aandeelhouers gelukkig hou. Maar hier’s ‘n harde waarheid: goedkoop arbeid oorsee kom teen ‘n hoë morele prys. Kinderarbeid, swak werksomstandighede, uitbuiting. Dis die prys van daai ‘goedkoper opsie’.
En weet jy wat? Kwaliteit ly ook. Jy’t nie beheer oor standaarde nie. Terugvoer? Vergeet daarvan. En goeie diens? Bel Bangalore maar en wens hulle geluk met jou aksent.
Wat ons verloor as ons invoer wat ons self maak
Ons verloor trots. Ons verloor vaardigheid. Maar ergste van alles – ons verloor selfvertroue. As ons kinders grootword in ‘n wêreld waar alles van buite kom, begin hulle glo niks hier is goed genoeg nie. Nie hulle nie. Nie hul taal nie. Nie hul mense nie.
En dis hoe ‘n volk sy ruggraat verloor – nie oornag nie, maar een ingevoerde spieël, een goedkoop skoenveter op ‘n slag.
Die groter prentjie – karaktervorming, dissipline en gemeenskapsbou
Ons praat graag oor karakter. Maar karakter bou nie net in Sondagdiens nie. Dit word gebou op fabriekvloere, by werkstasiebanke, in pakhuise waar jong manne leer wat dit beteken om op te daag, om reg te maak, om eerlik te wees.
Wanneer ons plaaslike arbeid gebruik, gee ons nie net ‘n salaris nie – ons gee ‘n geleentheid vir mense om hulself te bou. En dis hoe gemeenskappe sterk bly.
🟢 ‘n Christenverantwoordelikheid en kultuur van diens
Diensbaarheid is nie ‘n slagspreuk nie. Dis ‘n lewenshouding. En dit begin nie in sendingvelde in Oos-Afrika nie – dit begin by hoe jy koop.
Koop jy van die man in jou buurt?
Ondersteun jy die vrou wat haar eie konfyt bottel?
Of klik jy op ‘add to cart’ by ‘n maatskappy wat nie eens weet waar Pretoria is nie?
Ons geloof moet sigbaar wees in ons keuses. Ook by die kasregister.
🟢 Wat jy môre prakties kan doen
Jy hoef nie jou hele lewe te herontwerp nie.
Begin só:
Lees die etiket – vra jouself af: “Is dit hier gemaak?”
Vra jou werkgewer: “Waarom nie plaaslike verskaffers gebruik nie?”
Ondersteun plaaslike markte en kleinsake.
Praat daaroor – in jou gemeente, by die skool, op WhatsApp-groepe.
Dis die klein goed wat momentum bou.
🟢 Slotgedagtes: Dis nie oor vlae wapper nie, dis oor wie ons is
Ons hoef nie elke dag te wapper met vlae en te skree ‘Suid-Afrika!’ nie. Dis nie wat ware patriotisme vra nie. Wat dit wel vra, is om die moeilike keuse te maak. Om die plaaslike vervaardiger te kies al is dit ‘n paar rand duurder. Om te sê: “Ek is bereid om my geld te gebruik om my mense te versterk.”
Want as ons nie in onsself glo nie – wie sal?
Comments