‘n Fort en ‘n Toekoms: Jan van Riebeeck en die Geboorte van ‘n Kolonie (1652)
- Willie-Waldo Kühn
- Jul 15
- 3 min read
Dis nie net skepe wat aankom nie, dis mense
Stel jou voor, dit is ’n koel oggend op 6 April 1652. Die wind suig aan die seile, die waterkruike is byna leeg, en die manne op die Drommedaris kyk uit na ’n vreemde kuslyn met ’n berg so plat soos ’n pannekoek. Jan van Riebeeck klim aan wal, nie met ’n swaard nie, maar met ’n hand vol opdragte van die VOC – “Bou ’n verversingspos, hou die skepe instand, en moenie onnodig moeilikheid maak met die plaaslike Khoikhoi nie.”
Wat hy toe nog nie geweet het nie, is dat daardie eenvoudige aanwysings uiteindelik sou lei tot die geboorte van ’n nuwe gemeenskap. Een wat, met tyd, sy eie taal, godsdiensbeoefening, en kultuur sou vorm – die Afrikaners.
Waarom juis die Kaap?
Eerlikwaar, dit was nie liefde met die eerste oogopslag nie. Die Kaap het darem mooi berge gehad, maar dit was ook windverwaaid, ru en soms vyandig. Tog was dit strategies goud werd. Die VOC se skepe moes rus tussen Nederland en die speseryryke Ooste, en ’n plek soos Tafelbaai het kosbare dae op die see uitgesny.
Die VOC wou nie regtig ’n kolonie hê nie. Hulle wou net groente, water en gesonde bemanning hê. Maar jy weet hoe mense is, hulle plant ’n tuin en voor jy jou oë uitvee is daar ’n koringland, ’n kerk en ’n gemeenskap met ’n raad en klokke wat lui op Sondae.
Jan van Riebeeck: Burokraat of Bouer van 'n Volk?
Kyk, Van Riebeeck was nie ’n romantiese held nie. Hy was ’n boekhouer, ’n regsgeleerde, ’n man van pligte en planne. Maar hy het ook geglo in orde, dissipline en geloof. In sy dagboek merk jy op hoe hy elke dag begin het met gebed en Bybellees.
Hierdie eenvoudige roetine het 'n diep indruk gemaak. Die Christelike grondslag van sy lewe het ’n rigting gegee aan die klein gemeenskap. Sonder voorgee het die mense van die Kaap gou begin glo dat hulle hier is met ’n doel - nie net om te oorleef nie, maar om iets te bou.
’n Kerk, ’n Kombuis en die Klipmuur van Kultuur
Teen 1657 begin van Riebeeck vryburgers aanmoedig om grond te neem en hul eie boerderye te begin. Dit klink deesdae redelik alledaags, maar dit was ’n keerpunt. Hierdie mense, wat aanvanklik net werkers was - begin ’n eie lewe, eie identiteit en later selfs eie familiebybels hê.
Dis in die klein dinge waar die wortels van kultuur lê:
’n kombuis waar brood gebak word soos by die huis in Holland,
’n kerkdiens onder die akkerbome met psalms wat eg Afrikaans begin klink,
’n klipmuur rondom ’n huisie wat sê: “Hier hoort ek.”
Dis mos nie net geskiedenis nie, dis die begin van ons storie.
Die Khoikhoi, konflik en die ongemaklike waarheid
Nou ja, dit sal onregverdig wees om net die een kant van die geskiedenis te vertel. Van Riebeeck se Kaap het nie in ’n leë landskap ontstaan nie. Die Khoikhoi was al lank hier. Hulle het hul eie maniere, hul eie oortuigings en natuurlik hul eie redes om agterdogtig te wees oor die vreemde mense met vuurwapens en vreemde geluide.
Aanvanklike ruilhandel het gou verander in konflik. Veediefstal, misverstande oor grond, en verskille in wêreldbeskouing het spanning gebring. Dis ’n harde waarheid, maar een wat ons moet erken. Christenskap roep ons nie net om te onthou wat ons verloor het nie, maar ook wat ander moes prysgee.
Wat het ons oor gehou van 1652?
Sekerlik nie net datums en monumente nie. Wat leef voort, is ’n erfenis van geloof, arbeid en gemeenskap.
Die Afrikaner identiteit het nie oornag ontstaan nie. Dit was gesaai met moeite, natgelei met trane, en beskerm met gebed.
Vandag leef dit voort in:
’n kind wat in Afrikaans sy geloof bely;
'n gesin wat bid voordat hulle eet;
’n gesin wat saam Bybel lees na aandete;
’n jong Voortrekker wat leer van die geskiedenis van sy volk en God se rol daarin.
So, hoekom moet ouers hierdie storie ken?
Want jou kind sien wat jy eerbiedig. As jy weet waar jy vandaan kom, sal jou kind verstaan waarheen hy op pad is. Hierdie storie is nie net ’n hoofstuk in ’n handboek nie. Dis ’n erfenis wat lewe gee aan wie ons is, en hoekom ons glo wat ons glo.
Wil jy hê jou kind moet trots wees, maar ook nederig? Leer hulle van 1652. Leer hulle van Jan van Riebeeck - nie as ’n perfekte held nie, maar as ’n man wat begin het met niks en tog iets geplant het wat vandag nog groei.
Waar pas Die Voortrekkers in?
Dis eenvoudig. Die Voortrekkers bou verder aan daardie fondament. Hulle leer kinders dat kultuur en geloof hand aan hand loop. Dat diensbaarheid en eerbied vir die verlede ons wys maak vir die toekoms.
Dis nie ouwêrelds nie, dis wysheid. Dis nie 'n hukering na die verlede nie, dis nalatenskap.
Comments